Salar Uyuni – Dag 2

Met die opstaan vanoggend is al die krane gevries en die waterkanne buite ook. Ons kry ontbyt, eier, brood en dekadente dulche de leche. Ons stap sommer so ent aan, net om te sien die verlate dorp het ‘n astro baan!!! Kan jy glo, in die woestyn. Die bestaande regering het baie projekte in die area. Daar word skole gebou, sportvelde en hulle werk aan ‘n elektrisiteits projek. 

Oppad is daar ‘n llama boer waarby ons stop. Die llamas soek ook geld, dis ‘n kraal vol en as hulle agterkom jy kyk vir hulle trek hulle hul ore plat! Daar lê ‘n yslike hoop mis. Die word gebruik vir paaie en bemesting. 

Ons ry aan by myne verby wat borax uithaal en kunsleer daarmee maak. Dis ook spierwit, maar net poeier, geen sout kristalle nie. Ons ry by soutpanne verby waar sout gemyn word, nie veel nie want die sout is maar dun en ander baie vuil. 

Van hier na die termas. Janko en Abré spring in, ek en Lenka neem foto’s van ‘n Vacuña wat ronddwaal en voëls. Ons koop vreeslik baie sjokolade…net incase.  

Nie ver van hier nie stop ons in die woestyn duine met klip formasies wat bo die sand uitsteek. Dit word Desierto de Dali genoem. Blykbaar het Dali ‘n skildery genaak wat net so lyk. Mens kry egter net die helfte van die prentjie vasgevang in die foto. Die hele horison is vol van die rotspunte. 

Die landskap is pragtig, die berge van Bolivia is mooier as die kleure van Argentina. So kry almal iets om te wys. 

 

Laguna azul is baie mooi, sommer soos ons oor die bult kom. Met volkan Licancabur in die agtergrond. Die wêreld is besaai met die klippe wat hy uitgespoeg het. Vrek groot ontploffing gewees, as jy so na die vlakte kyk. 

Laguna Blanca is eerste, groot en vaal. Voor ons Laguna Verde. Ai, man dis mooi! Die meer is blou, weereens weens partikels van die son. Daar is arseen in die meer en ook koper. Dus, geen voëls…en saans myn ‘n paar vrouens ‘n paar botteltjies poeier hier…

Middagete is tussen rotsformasies of eerder stollings gesteentes van die volkan Licancabur. Hulle noem dit Restaurant Toyota! Ons is sowat 45km vanaf Atakama af, soos die voël vlieg! Mens kan dit nie glo nie. 

Ons ry weer deel van die pad terug na die geisers toe, Geisers Sol de Mañana. Hierdie geisers lyk heeltemal anders as die van Atakama. Dis orals kolke met modderige borrelende swael gasse. Daar is ook ‘n pyplyn waar die gas opgevang word met die poging om dit vir elektrisiteit te gebruik. Die kleure om die kolke is nogal mooi, dis rooi, geel en groen, en donker blou so in die sand. Ons is op 5000m bo seevlak. Ek het maar vanoggend my pilletjie gedrink, net incase. 

Ons stap maar ver van hulle af, ander mense staan op die rante, maar met die inkom het ons gesien hoe een geiser met ‘n ander verbind is, ondergronds, en bo stap die mense onbewus oor die grondpaadjie. Die water is meer as 100 grade en sal jou reguit hospitaal toe brand. Ek onthou eerder die geiser as die hospitaal. 

Nou vir die laaste stop, weereens ‘n laguna, die keer Laguna Colorado, en weereens flaminke. Ek skryf Elnett se naam met vulkaan klip op die strand van die kleurvolle meer met flaminke. Hoop jy het lekker verjaar vriendin. Jy kleur my lewe in soos die meer die aarde inkleur!

Ons stap in die yswind terug, ons blyplek is net so 5km verder, waar al die voertuie wat vanaand gaan oornag. Die mense het hostels gebou, spesifiek vir die toeriste. Kamers het beddens van steen, met vier per kamer. Daar is ‘n badkamer en gemeenskaplike kombuis. Die eetsaal is ruim, hier kuier mens sommer ook. Janko help vir Ronald die kar se stof afvee, die engin kap toe,aak en bo alles leer hy bietjie meer Spaans. Hy het my foon kom haal vir die woorde wat hy wil opsoek, so ek is tevrede met waarmee hy hom besig hou. Abré en Lenka speel skaak. Ek maak beddens reg, sorteer klere uit en natuurlik, hou julle almal op datum! 

Ronald se pa, Santos maak kos terwyl Ronald die bakkies toemaak. Ek besluit dit is baie werk en vra of ek kan help, natuurlik wil hy nie, maar ek vra in elk geval waar vanmiddag se borde is dat ek die skottelgoed kan was. Hy gee gretig en besef enige hulp is welkom. Die kinders help en dek die tafel. Vanaand eet ons weer baie, so ek besluit ek sal net sop eet, die aartappel skyfies, diepgebraaide worsies, eier en uie is net te veel. Na ete spring ons weer in en help met skottelgoed. 

Leave a Reply

Your email address will not be published.