Mirador de cerra de colores en Humahuaka se ocarineros

Vandag stap ons die berg uit na die mirador oor die dorpie Puemamarca en die cerro wat kleur gee van die agterkant af. Dis klipperig en soms bietjie styl. Maar ons kronkel die pad uit tot by die mirador. Hier kyk ons uit oor die dorpie met sy heuwel in die agtergrond wat soveel fotograwe hierheen lok. Cerra de colores en die lappe en klere nog meer as sewe kleure! 

Vroegoggend was die strate al ‘n brommery van ‘n motorclub wat ‘n roete ry na die saltes grande. Dis sportmotors die wêreld vol. Lenka kry weereens ‘n begeerte en dink ‘n besigheid uit. Nou soek sy so kar. Dis antiek, bloedrooi en funky. Sy sal maar vriende moet maak met Oupa Jak, want die tipe karretjie sal baie ghries werk hê! Van bo op die cerro kan ons die hele string motors sien en hoor. Dis mooi soos alle ou goed, elkeen met sy nommer en so ry hulle die cerro oorkant uit, stop en kom deur die stofstrate van die dorp terug tot by die grootpad en dan weer fort. 

Ons sakke het ons vanoggend by die cabañas waar ons die twee dae geslaap het gelos. Dit maak dinge darm net heeltemal makliker. Ons stap deur die dorpie se mark, want Lenka wil ‘n botteltjie sewe sand koop en Janko wonder hoe om sy $25 te spandeer. Tyd haal ons in, ons kry ons tasse en koop straatpies, op kole gebak soos roosterbrood op die hoek. Glad nie sleg nie en nie Chile se diepgebraaide oliebolle nie. 

Ons kry ons sakke en stap busstop toe. Janko besluit die $25 sal beter wees in nog ‘n roosterkoek en koop nog ene. Nou wag ons vir die bus. Ons tasse laai ons sommer self op, jy sit enige plek en helfte van die bus is skoolkinders wat oppad is terug huistoe in een van die dorpies oppad Noord. 

Ons kry die bus, vol skoolkinders, oppad na Humahuaca. Humahuaca is ‘n groot dorp, wel vir die area. Ons gaan hier net chill, rondloop en na die museums en standbeelde en natuurlik geboue kyk. Ons arriveer en kry blyplek, baie goedkoper as Chile. Weereens slaap ons heerlik in beddens vanaand. Nou moet ons Bolivia beplan, maar eers die dorp verken. 

Ons stap na die plaza, neem die kloktoring af en ook die kerk. Regs is ‘n hele string trappe en heel bo ‘n standbeeld van onafhanklikheid. Brons, massief en vol detail. 

Straat winkeltjies, musikante en wat nog! Oppad na bo is ons totaal en al mesmerized deur die klank van fluite. Dis panfluite, houtfluite en by een stalletjie pragtige pottery fluite, ocraneros. Die fluite verskil in grootte en ook toonhoogtes. Soms in C, ander in Bmol en somhet sy ‘n reeks. Klein, massief, almal is daar. Die handewerk baie mooi en as jy nou al ooit iets in ‘n pottery kiln bak het, sal jy weet hierdie is ‘n kuns, never mind om die klank nog perfek te kry. Ek kyk dus na dit met drie oë: die kunstenaar wat duidelik brandarm is in ons waardes, maar skatryk in haar kultuur en musiek. Dan die handewerk van die fluitmaker wat die pottery aanbetref, die bak, die grafeer en die kleure. Die fluite is vir agt ure gebak in ‘n vuur klin. Nog moeiliker! Derdens hoe hy daai klank so perfek daar laat uitkom. Jy sal weer as jy al ‘n riet fluit gemaak het, dinge gebeur nie so maklik nie! 

Ek is baie in my skik toe Lenka daarop aandring om ene te koop. Die dae van blokfluit het sy voordele want die windblaas instrument is regtig suiwer in klank. 

Ons stap na die argeologiese museum. Hier is weereens pottery, met massiewe potte wat in die area gekry is. Nou as jy weet hoe moeilik dit is om een van daai te maak, sal jy met ander oë na die argeologie kyk. En dan stap die tannie na die kamertjie langsaan en sluit die deur oop. Nooi ons in en net daar versteen ek. Ai, ek hou nie van die kinder offers wat die Incas gemaak het nie. So klein in postuur, tog 10-12 jaar maar sy lyk net 6. Die pik swart hare en dan die skedel wat misvorm is. Dat jy nou jou kosbaarste besitting moes gee vir die berg om oor jou te waak. 

Ons stap terug huistoe. Lenka oefen haar fluit, sy kom mooi reg! Fantasties. Kook gaan ek nie op ‘n gasstoof nie, en ons kyk of ons nie llama kan eet nie. Ons kry ‘n oulike restaurant en skaars na ons ingestap het stap drie musikante in. Dis kitaar, en ander snaar instrumente, heel aand. Hulle sing sommer ook. Dan die derde ene wat drom doen, jingle, met ‘n tros llama hoewe wat in ‘n bondel gebind is. Hy het ‘n tas vol fluite, seker een vir elke sleutel. Die fluite het net 6 gate elk, en lyk skoon vreemd as jy aan blokfluit gewoond is. Dan het hy ‘n groot drie-ry panfluit, en wat anders is,is dat hy so s die klank met opset nie suiwer laat deurkom nie, so effe met ‘n gesukkel, en dan ook trilling by. Ek geniet die aand, die llama stew en natuurlik die geselskap. 

Janko kan weereens nie die versoeking weerstaan nie en koop ‘n CD. Nou hoop ons maar hy speel as ons terug is in ZA. Die restaurant is vol, dis ‘n klein plekkie, maar baie gewild. Daar is families met klein kindertjies, 2 jaar oud? Almal klap hande, sing saam en moedig die kinders aan om deel te neem. Dis kultuur. So is die strate ook vol van kunstenaars in Argentina en Chile. Alle instumente, kitaar, fluit, viool, trekklavier, man alles word bespeel. Baie toeriste maak ook so ‘n ekstra geldjie om verder te reis of dalk beter te reis. Jou kind moet musiek doen, en ek stel voor ‘n instrument waarmee hulle kan reis ook! 

Dis vrek koud hier, en die vrou by die blyplek sê Bolivia es mas frio. Ai, ons gaan koud kry! Ons sal oor moet pak en daai handskoene en thermals onder uit die rugsak moet grou en bo inpak! 

Slaaptyd, môre relax ons en groet Argentina, die Noorde met tradisie, groot breë hoede vir mans en vrouens. Donker hare, donker oë en donker velle. Nie so Europees soos die Argentyne in Buenos Aires nie. Die is twee kulture, totaal en al verwyderd van mekaar. Wat ook vir my baie opvallend is is dat die armer mense baie slegte tande het. Ek weet nie of dit te min groente en vrugte of te veel suiker is nie, dalk die harde lewe van baie kinders, hard werk en sukkel. Die Argentyne eet soet in die oggend en met onse, dis aandete wat bestaan uit koek, toebroodjie en koffie. Ontbyt is altyd croissants en koffie. En dit gaan saam konfyt en Dulce de leche (karamel kondensmelk sê ek jou!). Die wat hinger is suig Coca blare, of drink coca tee. Dit help jou wakker bly, honger pyne wegsteek en is verslawend…met geen newe effekte nie. 

Ek dink oor die musiek. Klassiek is perfek met viole en instrumente van klas, status en wie weet wat. Musiek is formeel en moet perfek wees. Hier is dit anders, dis ‘n fluit, ‘n kitaar en soms is daar maar foute, maar wat dit in jou opwek is tien teen een dieselfde gevoel as die perfekte musiek. Die is net meer algemeen en baie meer kry geleentheid om dit te geniet en dit self te doen. Jy kan in die armste dorpies loop en orals sien jy kinders met instrument sakke oor hulle skouers. In die strate op die busse. In die strate sien jy mans, pa’s met instrumente. Hulle werk vandag, vanaand maak hulle musiek, of vir plesier of vir geld, om plesier aan ander te verskaf, om rykdom op ‘n ander vlak as geld en weelde te ervaar, vir faam of die genot om ‘n CD te verkoop. 

Tot môre, vanaand hoor ek net fluite in my kop speel! 

Leave a Reply

Your email address will not be published.