Janko verjaar: Ruta del Desierto – Geisers el Tatio en Machuca

Janko verjaar! Vandag is ons seuntjie 10! Dis 10 jaar van baie lag, grappe en vol vreugde. Ewig dankbaar vir my lewe en my kinders. 

Ons staan 04:00 op om betyds te wees vir ons toer na die geisers toe. Dis maar swaar. Ons ry om teen 6:45 by die geisers te wees. Die is die derde grootste geiser veld in die wêreld, Geisers del Tatio. Die grootste is Yellowstone in Amerika, tweede is Rusland en Chile nommer 3. Daar is altesaam 80 aktiewe geysers hier te sien. Sommiges op die vlakte, ander sommer teen die heuwels. Sommiges klein, ander groot. Party jonk en ander oud met kraters van mineraal neerslag wat om hulle gevorm het. Die minerale uit die geysers kleur die grond en is ook die oorsaak vir die kristal neerslag, wat natuurlik plaasvind as die water verdamp. Hier kry jy litium, borax, sulfaat en seker nog wat ek nie kan onthou nie. In die minerale groei daar bakterië wat van die minerale leef. Die bakterië word vir antibiotika gebruik. 

Die geisers lê in die kom onder die vulkaan. Hier is daar drie vulkane te sien. Die ene is aktief…ja, meer as 10mil jaar laas geblaas, maar die geisers is een van die tekens van aktiwiteit. Op die oop veld staan ‘n kontrêpsie wat mense opgerig het om die geisers energie te probeer opvang. Dit was ‘n flop. Sou mens die geisers oopmaak verloor dit druk en gaan alles tot niet. Afgebakende paaie loop tussen die geysers deur. By sommiges is daar net kraters gesien. Ander borrel ander spuit effens. Verder af is daar ‘n warm water bron. Bronne borrel konstant. Daar is drie tipes na aanleiding van hul temperatuur. 

Vroeg oggend is die skouspel beter as later in die dag as die aarde al warm gebak het. Dis vrek koud hier. Ons is amper 4320m bo seevlak, amper 2000 hoër as Atacama dorpie self en sowat 90km daarvandaan. Die klimaat is totaal en al anders hier. Dis Vicuña wêreld. Die bokkies vrek as hulle in kampe is. Van hartseer en wil glad nie eet nie. Hulle word dus gevang, geskeer en weer vrygelaat. Dis teen die wet om Vicuña te eet in Chile. Hulle kan temperature van tot minus 40grade oorleef. Die Spanjaarde het Vicuñas gekruis met ander spesies vir huishoudelike gebruik. Hier word lama’s steeds aangehou. Dit word geskeer vir wol en natuurlik vir vleis geslag. 

Ons ry uit na die terma’s waar ons baie braaf gaan klere uittrek en in die warm water sit. Ek en die kinders durf dit aan, mens moet darm op jou verjaarsdag so iets kwyt raak! Ons kry ontbyt en is weer reg om die dag aan te durf! 

Ons ry weer grondpad verder-teen spoed wat ek nie van hou nie- tot by die village van een van die stamme, die Machuca. Hier is ‘n katolieke kerk in die geval en kolonialisme natuurlik die mense se gebruike, geloof, taal en manier van leef kom beïnvloed het. So is kulture beïnvloed…ag dis ou nuus daai. 

Hier sien mens weer die verwoesting wat die goeie werke gebring het. Die Spanjaarde het donkies hierheen gebring, hulle net so laat staan toe hulle fort is. Van die donkies het oorleef en kom nou voor as wilde donkies, deel van die ekosisteem. Van die mense en hul tradisies het darm ook oorleef. Die plante wat medisinale eienskappe het word steeds gebruik. Die Vicuña loop vry. Die voëls wei in vrede en die mense oorleef die koue winters in die berge. 

 

Die parke het stamme wat uit aktiwiteite voordeel trek. Hier kan toeriste lama sosaties eet, wat heerlik is! Jammer bokkie mense… Dis net vrek duur, maar mens verstaan die idee. Janko gaan ‘n tweede keer koop en weereens kan ek nie stilbly nie. Hy verjaar, en net daar word hy ‘n hoed op die kop gedruk, en summier speel hulle vir hom happy birthday op trompet! So moet mens mos 10 word! Dis sneeu liggies, wat ook ‘n lekker memory op jou verjaarsdag is. Ons kry steeds lekker koud hier hoog in die Machuca village! 

Die bussie ry, almal is vrolik, gesels en Janko vertrel vir almal grappe. Die bus stop weer by panne met ganse. Hiervandaan kry ons baie inligting oor die voëls en diere van die streek. Ons leer van die Andes ganse, die vleiland en al die plante wat hier op die hoogte groei. Die kaktus wat hier groei, groei net 1cm per jaar. Die streek kry bietjie reën en daar is ‘n rivier waat die diere water drink.  Dis groen bossies wat die Vicuña eet. Die flaminke, twee spesies wat ons hier sien. Alles deel van een ekosisteem. Ons stop by die canyon om na die medisinale plante te kyk, skoonma se kussing hier in die foto en die hoë, pypvormige kaktusse wat teen die kliphange groei. 

Op ‘n klipperige berg stop ons gids weer. Hier is daar konyne, viscacha wat die groen bossies eet en die hele wêreld vol hop. Te oulik met hulle geel kleur, krul sterte. Dis die meeste dierelewe wat ons nog gesien het. Die woestyn is een van my gunsteling plekke. Ek hou van die eenvoudige bestaan, die dorpie met sy stofstrate, die kleur in die aandlug, die kontras in alles om my, skep kontras in my. 

Dit was ‘n dag vol gebeure. Terug by Domos los Abuelos pak ons alles uit in die chalet. Janko bedien vir ons verjaarsdag koek wat hy uitgesoek het by ‘n bakkery in die local area. Ons gesels en kuier om die swembad. Ek is doodmoeg, maar Janko en Lenka oortuig my om in die yskoue swembad te swem. Magties, dat mens twee keer op een dag so koud moet kry! 

Nou moet ons stort, aantrek en ‘n plek gaan soek vir aandete. Janko kan kies. 

Geluk! Die verjaarsdag sal almal onthou! Sy wens is om volgende jaar weer in die woestyn te verjaar, die keer Namib. Hy kan nie wag vir môre nie, want dan gaan hy sandboard op die Atacama duine en as ons gelukkig is die aand sterre kyk! Dis mos hoe mens verjaar, drie dae in ‘n ry. 

Leave a Reply

Your email address will not be published.