Pisco Vallei

Ons pak en ry uit La Serena. Vandag wil ons gaan bespreek vir die sterrewag, maar dit lyk bewolk so kom ons kyk wat gebeur. La Serena is ‘n groot plek! Ons gaan so 60km ry vandag. Oppad sien ons net druiwe boere, orals langs die pad. Ons kom by Puclaro dam klim uit en bekyk die storie. Die damwal is in die loop van die rivier gemaak. Dit dam alles op, en onder is ‘n hidro terbune ingesit. Niks word gemors nie. Die wal is mooi met klippe uitgelê en daar groei al bietjie plante op om die sement wal te breek. Water  word in ‘n kanaal afgevoer, maar nie ‘n geboude ene nie, dit lyk of dit net geskraap is met hoë grond walle aan die kante.

Groot is ons teleurstelling weereens vandag, die kleiner sterrewag is oop, maar vat nie kinders onder 14 nie. Flip, ek gooi sommer die tripadvisor app stukkend met ‘n marshmellow! Die algemene is toe, want vanaand is dit te bewolk.

Ons is in Vicuña, kry slaapplek vir vanaand. Vicuñas is die kleiner alpaca’s. Die bokkies word gevang en geskeer en weer losgelaat. Sodra hulle geskeer is dra hulle geen waarde vir wilddiewe nie. Jammer ons renosters kan nie net geskeer word nie. Ons eet roomys, want dis koekdag… Hier is baie roomys stalletjies, waar roomys self gemaak word. Lenka neem oulike snaakse pampoene af, wonder hoe proe dit! Die dorpie het ‘n paar oulike ou geboue, museum en promonade. Weereens baie eenrigtings en amper geen parkeerplek nie!

As ons nie kan sterre kyk nie gaan ons drink! Ons besluit om ‘n distilleerder te besoek. Dis natuurlik ook ‘n teleurstelling want daar is niks wat nou kook, draai, knars, pers of fermenteer nie. Alles is gebottel en die druiwe staan reg vir diemvolgende oes! Ons koop maar ‘n bottel om die hartseer te verbloem…

Ons besoek Aba-Pisquera. Daar is baie wat meer modern is, maar ons besoek antieke plekke. Die plaas is al 3 generasies aan die gang. Hulle maak net 50000 bottels pisco per jaar, wat almal uitgevoer word na Canada, Europa en nie Suid-Afrika nie. Hulle verkoop slegs aan mense uit die fabriek, anders kry Chile maar van ander plekke af.

Druiwe word geoes en gepers. Pitte en skille word weer terug gewerk as kompos. Dit word gedistilleer, ‘n paar keer om die lekker suiwer te kry en staan dan vir 2 jaar in vate uit Chile, wat geen geur of kleur aan dit gee nie. Daarna word dit verdun met skoon water uit die vallei, om dit 40% alkohol te maak.

Daar is drie soorte: een is skoon, net een soort druif en is wit, nee nie wit soos swart nie, Pisco wit. Dan die ligte ene, wat ‘n mengstel van 5 druiwe is. Die derde ene is ook ‘n mengsel, maar word vir ‘n verdere 8 maande in ander vate gesit vir geur en kleur.

Twee mooi kontraste vandag, die woestyn met die groen vallei. Die Pisco blanc en diep gekleur. 

Leave a Reply

Your email address will not be published.