Bus na Pichilemu

Die mark voor ons deur begin 04:00 stiptelik hul groente uitpak. Dis ook dan wat jy groot vragmotors sien wat kom produkte aflaai, en seker weer ander wegry. Dan gaan eet hulle saam en teen 6:00 as die mense begin verbystap is hulle reg vir besigheid. 

Vandag vat ons twee busse uit na die Capital de Surf, Pichilemu. Die weer het belowend gelyk so kom ons hoop vir die beste. Eers een bus na Santiago, seker so uur en ‘n half. Daar is die keer ander dinge wat ons opval. Busse vertrek elke halfuur. Die bestuurder is op sy eie…en daarom is daar seker scope vir korrupsie. By die busstop wys ‘n polisieman net sy id en klim verniet op. Ons is skaars by die stad uit of ons word voorgekeer by die weegbrug, ‘n sekuriteits kontrole beampte klim op. Kyk na al die kaartjies, tel die mense op die bus en ons beweeg aan. By die volgende busstop – op die snelpad – klim hy af. Ons stop by die tolhek…hier klim ‘n handelaar op, verniet en verkoop sy tuisgemaakte koekies, broodjies en alfajores (al-fa-go-res). Die kinders koop ‘n pakkie met hul eie geld. Die handelaar gee vir die bestuurder ‘n pakkie van sy keuse voor hy afklim by, wel nog ‘n bushalte op die snelweg. By die volgende ene klim daar wraggies die keer twee beamptes op, check alles en woeps klim hulle weer af…

By die terminaal, jip, word alles weer finaal gecheck. Ai die lewe darm. 

Ons soek ons vrek na ons volgende bus, die terminaal het stoppe in al 4 windrigtings en ons soek effens na nr 25. Ons bus…jip, dis die ou ene wat ‘n wrak is, daar doer eenkant. Janko kan dit nie glo nie. Hy het al begin droom van “cama, premium…daar lê jy plat, jy het ‘n tv, wifi en jy kan jou ipad laai…” So ons bus is ‘n groot teleurstelling. Maar ons is op! Nog voor ons ry, maak die bestuurder die “vent” bo in die dak oop, ons manual aircon. Great. Die twee bestuurders of kondukteur en bestuurder werk goed saam. Almal in die bus word gevra waarheen en of hul centro toe gaan al dan nie. Soos ons ry oppad na Pichilemu word mense by elke dorpie op en afgelaai. Die bus stop baie. Centro passasiers se tasse is agter gelaai en die ander sin voor, dit laai dus maklik in en uit. Vir sommiges stop hy sommer voor die plaashek, in die dorp voor ‘n winkeltjie of by ‘n bushalte waar familie reeds staan en wag. Dis darm diens! Hier kom ons nou by die boerdery uit met die wynplase, groente, gesaaides en wat nog. 

Janko het gisteraand ‘n rooi ogie gehad, vanoggend nog rooier. Ek het oogdruppels, maar dink nie dit het enige effek nie. Ons was net ‘n uur in Santiago, so ons besluit ons vat hom dokter toe sodra ons in Pichilemu aankom. Hy mag nie ipad speel nie, moet sy ogie rus so ons almal sit en kyk by die venster uit, gesels, lees of slaap so aan en af. Ons ry 3.5 ure. Verby die hospitaal, so ons weet darm waarheen om te gaan. In totaal was ons 7 ure aan die reis vandag. Ons soek plek om te bly in Pichilemu. Alles is verlate want somer is verby, dis net ons mal mense wat in herfs hier ronddwaal. 

The golden beaches…. Dis nie verniet so nie. Ons is weer by ‘n swart strand. Strande sluit mere en see in, so verander jou denke oor woorde. Toe ons die strand area tref is dit weer tsunami borde, ai. Waar in jou lewe surf jy op swart strande? Dit voel sommer verkeerd. Dit maak alles grou, see, lug en sand…

Ons kry akkomodasie ‘n twee slaapkamer woonstel in iemand se erf. Abré en Janko stap hospitaal toe. Ek en Lenka kook ons vars groente wat ons gister op die mark gekoop het. Lekker uie, seldery, wortels, koriander, tamaties, chillies…als wat ek kan ingooi gooi ek in die pot. Rys is linseed, rys, lensies en sonneblom- en pampoensade, weird kombinasie! Lenka maak weer vriende met die twee honde en die lekker vet kat! Sy meeeau onophoudelik, seker daar waar sy die lyfie kry! Lenka voer hulle en ek kyk maar net ander pad! 

Janko kry medikasie by ‘n baie mooi dokter, net Spaans. Baie trots op sy dokter. Dis laat, ons speel weer brug, die kinders raak nou oulik! Net ek is bang om ordentlik te roep! 

…Lenka kla haar keel is seer. Nou haal die mense op die bus met loop neuse, die hostels se cosmopolitan en baie rondtrek ons dalk in. Kom ons kyk hoe lyk môre. 

Leave a Reply

Your email address will not be published.