Pucon

Ai tog, dis te vroeg vir my. Oppak, en uit. Die hostel slaap nog almal. Ons mis dus die ontbyt. Vandag vat ons ‘n kans. Abré bel die oom van die bakkie. Hy is eers 9:00 op kantoor, en die bus na Pucon ry 9:20. Ons moet in spitsverkeer in die noue strate van Puerto Varas busstop toe, afgelaai word en dan ry Abré verder en hy sal seker moet terug draf, of hardloop. 

Ons vat ‘n kans. Dit reën. Ons pak, ry en die verkeer vang ons. Wel, gelukkig het ons vroeg genoeg begin. Ek sms Abré maar hy vang spoed, die omie is min gespin oor die lig wat gebreek het, die hoeveelheid kilometers. Hy wil net sy 30000$P vir die dag hê en verder het hy ‘n saak. 9:07 is Abré by die busstop. Ons koop die kaartjies en is oppad Pucon toe. 

Die bus is redelik leeg, bietjie aan die ou kant, maar die rit is net 4 ure en kos ons R1000 vir die 4 van ons. Die kinders speel ipad, ek blog en probeer alles opdateer. Abré doen navorsing oor Pucon se kampeerplekke, die Nasionale Parke en omgewing. 

Ons stop op Osorno, alles is dorpe en dig bevolkte gebied om ons. 

Die pad is lank, die bus breek weer en ons wag eer baie lank vir ‘n ander ene. Dis landelike gebied. Langs die meer na Villarica is dit baie mooi. Plotte, groen gras, groot huise, letterlike honderde kampeerplekke en akkomodasie. 

Ons is in Pucon. 4 Ure het 6 geword. Die dorp het vreeslik ontwikkel as gevolg van toerisme. Ek sien dit egter as sleg…elke huis verhuur ‘n kamer, of twee of drie. Elkeen probeer geld maak uit iemand. Die plekke is oud en onversorg. Geen standaarde, soos dit maar in ontwikkelende lande gaan. Dit gee darm die geleentheid vir ‘n inkomste. Ek is seker die plekke buite die dorp is beter. Dis mos maar soos dit is, die ou dele bly net oud. Hier en daar ‘n nuwe plek, uitgerus vir die wat in $ betaal en sentraal wil wees. Die meer is ‘n paar honderd meter weg. Ons gaan hier plek soek en dan die natuur aanvat en in die park gaan stap en kamp. 

Ek gaan soek kos vir die kinders en besluit om sommer oorkant die straat iets te drink en hulle kan iets eet. Hier is wifi so ek laai so paar goed op die internet en FB op. Ek neem darm een foto vir die dag! Abré het plek gaan soek en ons wag met die swaar rugsakke. 

Ons kry ‘n plekkie in die dorp, nie te ver om te loop in die reën nie. Dis donker, maar groot genoeg vir alles uitpak, wasgoed bymekaarmaak. Abré gaan gee die wasgoed af, doen inkopies en vanaand maak ek weer ‘n lekker pot groente en hoender in die oond. rys met lensies in en ons is reg vir die bed! Ons is almal moeg. Môre doen ons niks behalwe rus, en nog rus. Alles opdateer, foto’s uitsorteer en sommer net niks! 

Leave a Reply

Your email address will not be published.